Dis oestyd in die Boland, wat beteken dat elkeen paraat en op sy pos is. In die hoogsomer hou ons wynmaker, Klaas Stoffberg, en sy span die wingerde fyn dop, en staan gereed om te begin pluk sodra die trosse optimale rypheid bereik het. In die kelder is die 2025-oesjaar se wyne reeds besig om vorm aan te neem.  

Elders op die plaas pluk Ian en die plaasspan nog die laaste Afri-Blush-appels en het hulle pas met die jaarlikse amandeloes begin. Uit ons tonnels kom daar nou ’n oorvloed erfstuktamaties, eiesoortige komkommers en kleurvolle soetrissies. Laastens is daar die tonnel se eksotiese waatlemoenvariëteite – het jy al Moon & Stars probeer? Ons is verder opgewonde oor die seisoen se eerste ryp vye, turksvye en keiappels uit die tuin.  

Dit lyk of 2025 vir ons ’n wenjaar gaan wees. By die 2024 Food & Home Awards het ons afgeskop met nie minder nie as 11 toekennings! Gunstelinge soos Vonkeltee, wat ons verlede jaar begin maak het, asook ou staatmakers soos bitterlekker en ons tradisionele waterbuffelmozzarella het almal goud verwerf nadat smaakkenners dit volgens die strengste kriteria beoordeel het.  

Goue toekennings: 

  • Waterbuffelmozzarella  
  • Gekruide halloumi-stokkies 
  • Rooibostee  
  • Koffiebone  
  • bitterlekker 
  • Ekstra suiwer olyfolieversnit  
  • Balsamasyn  
  • Heel Kalamata-olywe met kruie  

Silwer toekennings: 

  • Vonkeltee rooibos-ystee  
  • Babylonstoren volroom waterbuffeljogurt  
  • Kalamata & ansjovis-tapenade 

Ons Woeker in die Wingerde

In die kelder staan almal goed bont – ons is in die middel van die wynoes en die span is volstoom aan die werk. Ons chardonnaydruiwe is reeds in die kelder en sal binnekort van gedaante verwissel – dit word vir Sprankel se 2025-oesjaar gebruik. Maar ons sal geduldig moet wag voor ons hieraan kan proe, want hierdie Cap Classique word op die tradisionele manier gemaak – ’n proses wat oor vier lange jare strek. Intussen fokus ons ook op hierdie jaar se Mourvèdre Rosé – heerlik wanneer dit fris en vars gedrink word. Ons sit nou behoorlik skouer aan die wiel sodat dit betyds sal wees vir die jaarlikse 2025 Chelsea Blommeskou wat in Meimaand in Engeland gehou word.  

Op Soetmelksvlei is ons ook aan die oes, maar teen ’n stadiger pas. Ons muile, Antjie en Saartjie, vervoer die druiwetrosse van Babylonstoren se kelder na Soetmelksvlei, waar dit met die voet gepars word om die robynrooi sap vry te stel. Gaste kan kom saamtrap, maar besprekings is noodsaaklik. 

Die Maand van Liefde

Februariemaand – met sy intense hitte, ’n oorvloed plomp, ryp vye en die laaste van ons lekkerruikrose – is amper nog beter bekend as die maand waarin die liefde hoogty vier. In die Pofadder-uitstaltonnel sal daar gedurende Februarie nie minder nie as 80 roossoorte pronk, onder meer Mermaid, Albéric Barbier, Champagne Pearl en Rosa Damascena. En teen die roostorings rank Mme Alfred Carrière, Kiftsgate en Souvenir de la Malmaison. Kom maak gerus ’n draai!   

As jy nie self op die plaas kan wees nie, kan jy steeds in Babylonstoren se lekkertes deel. Gaan loer in die aanlynwinkel na die besonderse geskenkpakke wat ons saamgestel het om jou geliefde se asem letterlik weg te slaan. Ons lewer dit graag af – met liefde! 

Deel die liefde – besoek die aanlynwinkel.

Fynproewerskoffie

As jy ’n koffie-aficionado is, maak seker Babylonstoren se koffierooster is op jou lys reisbestemmings vir 2025. Ons huismengsel mag ’n nuweling op die koffiefront wees, maar is reeds by Coffee Magazine se A Shot in the Dark as wenner gekroon (“cupping”-afdeling). Met hierdie gesogte titel is daar erkenning gegee aan ons toewyding aan uitsonderlike koffie – en dit maak ons dankbaar sowel as opgewonde. Kom proe self waaroor dié bohaai gaan by ons outentieke koffierooster (en stel sommer Babylonstoren se buffaccino op die proef terwyl jy hier is). Onthou, jy kan Babylonstoren se koffie ook aanlyn bestel en vars by jou voordeur afgelewer kry. 

Het jy geweet? Ons koffiekapsules is ten volle komposteerbaar.  

Kry koffiewoema.

Werkswinkels in Februarie

Babylonstoren

5 Februarie – Waterwise gardening 101  

12 Februarie – Discover & grow cycads  

19 Februarie – Join us for healing tea  

26 Februarie – Discover the secret life of bees  

Soetmelksvlei

7 Februarie – Bake your own at Soetmelksvlei: teatime treats with choux pastries & almonds 

14 Februarie – Say it with chocolate & cake: bake your own Valentine’s treats at Soetmelksvlei 

20 Februarie – Bloomin’ beautiful: the art of flower pressing at Soetmelksvlei  

21 Februarie – Fig feast: bake a fig tart at Soetmelksvlei   

28 Februarie – Traditional needlework: the basics of colourful quilting at Soetmelksvlei   

Bespreek nou.