Wat gebeur in Desember?
November 27th, 2024Die wonder van die feestyd is oral oor die plaas te bespeur, en ons geliefde donkies en ander plaasdiere lewer ook hul bydrae om hierdie tyd nog meer spesiaal te maak. Van 13 tot 23 Desember bly ons saans tot 19h00 oop, so kuier gerus ’n bietjie langer by ons – gaan op ’n wandeling teen sonsondergang, doen inkopies teen ’n rustiger pas of klink ’n glasie op die komende jaar.
Ons deel graag goeie nuus oor ons pronkwyn, Nebukadnesar 2022. Die 2025 Platter’s Wine Guide het aan hierdie Bordeaux-versnit vyf sterre toegeken (95 punte). Ons is net so verheug oor Sprankel 2019 wat 93 punte behaal het, en wens ons spanne in die wingerd, kelder en die proelokaal hartlik geluk met hul uitnemendheid.
In die tuin is daar nou ’n oorvloed somervrugte ryp, onder meer die sappigste Transvalia en San Pedro perskes. Ons sien uit na die lotusblomme wat besoekers binnekort in die dammetjies naby die bosleliepaadjie gaan betower.
Ian en die plaasspan staan gereed om carnarolirys in die ryspaddies aan te plant. Dié gewas groei dwarsdeur die somer totdat dit teen die einde van Maart oesgereed is. Risotto is ’n instelling op Babel Restaurant se herfsspyskaart, en ons is nuuskierig om te sien watter planne die sjefs hierdie keer daarmee sal maak.
Dis die heel mooiste tyd om by ons Plaashotel te kom oornag. Hoe klink ’n wegbreekkans sommer so op die ingewing van die oomblik?
Geseënd met geskenke
Ons wonderlike Geurkamer maak weereens plek vir die jaarlikse Kersfees-opwipwinkel. Kies uit fyn linne en huisware, heerlikhede uit toeka se dae en dekadente eetgoed. Boonop draai ons jou geskenke gratis toe voor jy huis toe ry. Dis die heel grootste bederf om jou geliefdes met ’n stukkie Babylonstoren te trakteer. As jy nie self by die plaas ’n draai kan maak nie, sluit aanlyn by ons aan.
‘n Heerlike dag by Soetmelksvlei
Kom ervaar die gees van ’n tradisionele 19de eeuse feestyd by Soetmelksvlei. Die kleinspan kan kom help om met handgemaakte papier Kerskaartjies te maak wat by ’n ouetehuis in Franschhoek afgegee sal word. Die oskarretjie is met feestelike klokkies versier vir ’n vrolike rit op die werf, en in die Plaashuis se kombuis kan kinders Kerskoekies bak en versier.
By die Jonkershuis Plaaswinkel is ’n verskeidenheid unieke geskenke te koop. As eenvoud hierdie tyd van die jaar vir jou belangrik is, kom snuffel gerus hier rond vir duursame, handgemaakte items. As jy ’n tannie of ouma is wat graag jou handwerkvaardighede en kennis met die volgende generasie wil deel, is daar ’n reeks doen-dit-self-geskenke.
Wees ook op die uitkyk vir die nuutste lid van die Soetmelksvlei-familie (en Gemmer se nuwe speelmaat): ’n gawe gemmerkatjie met die naam Rooikappie!
Bespreek vir Soetmelksvlei.
Lieflike laventel
Die suiwer, soet geur van laventel is in die lug te bespeur nog voor mens jou eerste tree in Babylonstoren se tuin gee. Ons gebruik ’n spesiale soort Lavandula vir ons essensiële olie. Elke dag rondom 10h00 kry gaste by die Geurkamer ’n kykie agter die skerms om te sien hoe ons deur middel van distillasie die gekonsentreerde olies uit die blomknoppies kry.
Bonsaibonus
Op ’n warm Desemberdag bied die Pofadder-uitstaltonnel welkome skaduwee. Hier kry jy dan op die koop toe die kans om ons jaarlikse bonsai-uitstalling te sien. Hierdie miniatuurboompies word reeds dekades lank in Suid-Afrika gekweek. Trouens, Suid-Afrika was een van die eerste lande buite Asië om sy eie inheemse bome vir hierdie kuns te gebruik, soos die witstinkhout en kremetartbome wat tans uitgestal word.
Shhlurrp!
Besoek Babylonstoren gedurende die sonnige seisoen en kom geniet ’n happie by die oesterwaentjie in Babel se binnehof. Saam met die Weskus se beste bedien ons natuurlik ’n glasie yskoue vonkelwyn.
Jy kan ook plek bespreek by die Ou Bakkery se feestelike aandetes. Kies tussen die Italiaanse aand of Karnivooraand (wat ’n Chianina-fees insluit). Met die Wynland-son wat nou later sak, is hierdie aande ekstra spesiaal. Kom gerus ’n bietjie vroeër en wandel deur die tuin – dis soveel rustiger hierdie tyd van die dag, of gaan ná ete vir ’n ontspannende stappie voor jy tussen die lakens inkruip.
Lipleklekkerte
Somer sal darem ook nie somer wees sonder ’n lekseltjie koue soetigheid nie! Hierdie jaar het ons ’n paar feestelike gelatogeure vir jonk en oud bygevoeg, soos karamel en tipsietert. Of dalk verkies jy die panino gelato – ’n ‘toebroodjie’ gemaak met Nederlandse stroopwafels en gelato.
Die nuwe sorbetreeks sal ook so ’n bietjie skop in jou somer sit – daar is ’n skeutjie Babylonstoren-wyn by. Gesondheid in die rondheid!
Werkswinkels in Desember
3 Desember – Make your own Christmas decor
3 Desember – Make your own Christmas decor
4 Desember – Unlock the diversity of indigenous succulents
5 Desember – Make your own Christmas decor
6 Desember – Everything’s better with butter: make butter & bake buttermilk rusks
10 Desember – Make your own Christmas decor
11 Desember – Lavender & essential oils
12 Desember – Grow your own veggies (workshop for kids aged 4–7)
12 Desember – Grow your own veggies (workshop for kids aged 8–12)
13 Desember – Bake your own: savoury breads for a festive table
Bespreek nou.